Die pasiënt, soos meer volledig beskryf in paragraaf 2, onderneem om die sielkundige praktyk van Gustaf Pretorius (hierna “DIE PRAKTYK ”) te betaal vir dienste gelewer teen die tariewe soos van tyd tot tyd deur DIE PRAKTYK bepaal. Alle rekeninge is binne 30 dae na die faktuurdatum betaalbaar. Rente loop op agterstallige bedrae teen 2% per maand. Indien die pasiënt nie die rekening betaal nie, en DIE PRAKTYK besluit om regstappe teen die pasiënt te neem, onderneem die pasiënt om die regskoste te betaal vir die invordering van die uitstaande skuld ten opsigte van sielkundige dienste, insluitende prokureursfooie op ’n prokureur-eie-kliente skaal, invorderingsfooie en –kommissie, rente en opsporingskostes.
Die verantwoordelike persoon soos omskryf in paragraaf 1 hierbo (hierna “VP”), bind homself as borg en mede-skuldenaar gesamentlik en afsonderlik met die pasiënt vir die behoorlike nakoming van die pasiënt se verpligtinge teenoor DIE PRAKTYK in terme van hierdie kontrak.
Beide die pasiënt asook die VP bevestig dat alle bedrae betaalbaar aan DIE PRAKTYK deur hulleself verskuldig is, afgesien van die versuim van enige mediese skema om enige eis uit te betaal of enige afkeuring van ’n eis deur ’n mediese skema. DIE PRAKTYK mag, maar is nie verplig nie, om eise namens pasiënte by enige gekose mediese fonds aanhangig te maak, maar word hiermee kwytgeskel van enige skade wat mag voortvloei uit administratiewe foute wat deur DIE PRAKTYK begaan word.
Die pasient en VP neem hiermee kennis dat dit soms nodig mag wees om persoonlike inligting deur te gee na verwysende dokters, ander belanghebbende professionele persone, hospitale en mediese fondse. Alhoewel ons alles in ons vermoë sal doen om inligting vertroulik te hanteer, kan ons nie aanspreeklik gehou word vir bekendmaking daarvan nie. Enige inligting wat wel bekend gemaak word, sal streng volgens die riglyne van die etiese kode van ons professie hanteer word.
Die VP en die pasiënt gee hiermee toestemming aan DIE PRAKTYK om kredietinligting te deel en uit te ruil met enige kredietburo of ander instelling met wie hulle finansiële transaksies gehad het of kon gehad het, ook sodanige inligting wat versoek word kragtens enige omstandighede soos beoog word in die Nasionale Kredietwet 34 van 2005.
Die VP en pasiënt kies die fisiese adresse hierbo as hulle domicilium citandi et executandi vir die doeleindes van betekening en onderneem om DIE PRAKTYK skriftelik in kennis te stel van enige verandering van woonadres. Die partye waarborg dat hulle die terme en voorwaardes van hierdie kontrak gelees het en verstaan, en dat hulle instem tot die insluiting daarvan in hierdie kontrak.